DitsemBlits is tans besig met insameling van gegewens van Geloftefeeste en -dienste wat vir vanjaar op 16 Desember en rondom hierdie datum beplan word. Met die oog hierop is reeds twee omsendbriewe aan organiseerders van Geloftegeleenthede gestuur, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die buiteland. Die Geloftekalender is sedert 2011 nog elke jaar gepubliseer en het die totale aantal feeste en dienste progressief toegeneem, sodat verlede jaar 209 geleenthede met hul basiese besonderhede gelys is. Ook in die buiteland onder Afrikaner-diaspora is toenemende belangstelling om in verskillende lande Geloftedag te herdenk.
Benewens die Facebook-blad en WApp-groep wat vir die Geloftefeeskalender geskep is, is ook onlangs ‘n webwerf vir die Kalender daargestel – sien by www.geloftefeeskalender.co.za. Op die webwerf is ook die 2023 Geloftefeeskalender met sy interaktiewe wêreldkaart. Daar word gepoog om vanjaar in die Kalender die aantal Geloftefeeste en -dienste aansienlik uit te brei. Met die oog daarop word ‘n algemene openbare versoek gerig dat indien enigiemand weet van ‘n Geloftefees of -diens wat nie in die 2023 Geloftefeeskalender verskyn nie, om te reël dat besonderhede daaromtrent in die volgende formaat voorsien word by epos gelofte@ditsem.net of WApp by 082 773 2150:
- Naam van die Geloftefees of -diens.
- Plek of terrein waar die fees/diens gehou word.
- Dorp of stad waaronder die Geloftefeesterrein val.
- Volgende basiese besonderhede: Presiese datum(s ) / Programdetail met tye – maks 60 woorde / Naam van feesspreker / Naam van leraar wat Geloftediens lei.
- Naam van kontakpersoon met selnommer en eposadres.
Aangesien koste verbonde is aan die samestelling en instandhouding van die Geloftefeeskalender en sy mediaprodukte, word borgskappe deur besighede en individue teen bekostigbare bedrae verwelkom. Advertensies van borge word op die webwerf van die Kalender geplaas en sodoende kan uitstekende blootstelling by ‘n unieke teikenmark verkry word – kontakbesonderhede is dieselfde as hierbo.
Ten slotte is die Gelofte van Bloedrivier natuurlik ‘n ooreenkoms tussen God en die Afrikaner/Boerevolk en is nakoming daarvan bepalend vir die toekoms van hierdie volk.
