AAN: ALLE ORGANISEERDERS VAN GELOFTEFEESTE EN -DIENSTE
Goeiedag almal
Geloftefeeste en/of -dienste 2025: Geloftefeeskalender
Waar ons ons nou reeds in die tweede helfte van vanjaar bevind, word u hiermee versoek om solank u gefinaliseerde programme vir u Geloftefeeste of -dienste vir en rondom 16 Desember vanjaar vir ons deur te stuur, asb. Kom ons wend ‘n reuse poging aan om die Gelofte van Bloedrivier vanjaar meer as ooit deur ons Afrikaner/Boerevolk te laat nakom.
Die rede hiervoor is eenvoudig dat slegs die God van Bloedrivier, wat vandag nog dieselfde is, kan ons volk weer bymekaar bring en ons ons plek in vryheid in die wêreld gee. Kom ons verootmoedig ons voor Hom, maak dit ‘n voortdurende gebedsaak en aktiveer elkeen ons stroompie, om later te kan saamvloei in een bruisende magtige stroom onder Gods hand.
Vir opname in die 2025 Geloftefeeskalender, stuur die inligting van jou Geloftefees of -diens soos volg aan die kontakbesonderhede onderaan hierdie brief nie later nie as 31 Augustus 2025, asb.:
Bevestiging van die naam van die Geloftefees of -diens.
Die plek of terrein waar die fees/diens gehou word.
Bevestiging van die dorp of stad waaronder die Geloftefeesterrein val.
Die volgende basiese besonderhede: Presiese datum(s ) / Programdetail met tye – maksimum 60 woorde / Naam van feesspreker / Naam van leraar wat Geloftediens lei
Bevestiging van naam van kontakpersoon met selnommer en eposadres
Indien jy nie meer die organiseerder is nie, of nie in die organiserende komitee dien nie, stuur hierdie brief aan die korrekte organiseerder en laat ons terselfdertyd weet, asb.
Voorts: Weet jy van enige ander Geloftefees of -diens wat vanjaar gehou word en wat nie in die 2023 Geloftefeeskalender verskyn nie?
Gerieflikheidshalwe is die Geloftefeeskalender van verlede jaar by hierdie skakel.
Aandag word ook weereens gevestig op die webwerf vir die Geloftefeeskalender by www.geloftefeeskalender.co.za, asook op die WApp-groep vir die Gelofte en die Facebook-blad.
Indien daar van u is wat sukkel met geskikte sprekers en leraars, kontak my gerus vir moontlik ‘n alternatiewe programsamestelling.
Dan word ook ‘n beroep gedoen op u om hulp om meer van ons volksgenote in die diaspora in die buiteland by herdenking van die Gelofte van Bloedrivier te betrek. Aangesien almal van ons kinders, kleinkinders, familie, vriende of kennisse in die buiteland het, kom ons kontak hulle en vra of hulle in die lande waar hulle woonagtig is, nog die Gelofte op 16 Desember herdenk. Indien dit nie die geval is nie, kom ons vra hulle om by ‘n bereikbare Gelofteherdenking in te skakel of andersins een nuut te reël. Dit kan klein begin, selfs by ‘n woning, of selfs indien afstand en fisiese omstandighede ‘n probleem is, kan dit d.m.v. digitale kommunikasie bv. met Zoom, Teams, ens. geskied.
By voorbaat dankie vir die samewerking en ondersteuning in hierdie projek van kritieke volksbelang.
Geloftegroete
Johann Dannhauser
REDAKTEUR: DITSEM NUUS
082 773 2150
gelofte@ditsem.net | www.geloftefeeskalender.co.za
Oranje Eggo S39 • Orania
