Diaspora — Suid-Afrika bly in die bloed

by | Nov 8, 2024 | Nuus | 0 comments

Terwyl soveel Suid-Afrikaners al die afgelope nagenoeg drie dekades geëmigreer het, is dit opmerklik dat die vaderlandswortels sterk bly en dat daar steeds ‘n hunkering bestaan na die land, na agterblewende famile en vriende en na die Afrikanerkultuur met sy vele fasette. Vir die SA diaspora in die buiteland het AfriForum die digitale platform AfriForum Wêreldwyd geskep en in die jongste uitgawe word vertel van ‘n SA/Afrikaner-naweek wat in Australië gehou is. Die volgende is ‘n uittreksel uit die betrokke artikel:

In 2023 het Hendrika Jooste, bekend as The Migrant Whisperer, en Dr. Christina du Toit opgemerk dat ná die isolasie van COVID-19 baie Suid-Afrikaanse vroue in Victoria, Australië nog geïsoleerd gevoel het en ’n gebrek aan ’n sterk ondersteuningsnetwerk gehad het. Hulle het ook gesukkel om professionele geleenthede in hul nuwe omgewing te vind.

Vasbeslote om hierdie uitdagings aan te spreek, het die duo Floreer Oorsee (Flourish Overseas), ’n reeks oggendteefunksies, bekendgestel om sosiale en professionele verbintenisse onder Suid-Afrikaanse vroue te bevorder. Die reaksie was oorweldigend positief met deelnemers wat ’n meer uitgebreide geleentheid wou hê wat hulle gesinne insluit.

Francois en Tania Steyn, eienaars van Brookfield Maze, wat al lank daarvan droom om ’n Suid-Afrikaanse fees te hou, het ook betrokke geraak. Die idee van ’n naweekwegbreek het in Junie gestalte gekry en is Oorsee.com, ’n sosiale mediaplatform vir Suid-Afrikaanse immigrante, is betrek en so is “Makietie by die Maze” gebore. Die datums is vasgemaak vir Vrydag 27 September tot Sondag 29 September 2024, terwyl as formaat besluit is op ’n gemeenskapsbyeenkoms met gratis kampering. Vir diegene wat nie plek by die Maze kon kry nie, het by nabygeleë kampterreine, gaste-akkommodasie en karavaanparke hul tydelike tuiste geword.

Met die kaartjies wat aan Suid-Afrikaners verkoop is en 295 dagbesoekers by Brookfield Maze op Saterdag, insluitend plaaslike inwoners en vakansiegangers, was die totale aantal besoekers op Saterdag ongeveer 500 mense. Hulle het die mark en ander aktiwiteite geniet en Suid-Afrikaanse ondernemings soos Let’s Braai en MannaBrew Australia, saam met plaaslike markstalletjiehouers, kon hulle produkte aan ’n nuwe marksegment bekendstel. Daar was ’n fees van Suid-Afrikaanse lekkernye, met Bushman Meats wat boereworsrolle, biltong en ander tradisionele gunstelinge verskaf het. Valley View Foods bied kerrie en rys en jaffels, en Glenbosch Wine Estate bedien vetkoek en maalvleis saam met hulle beroemde Rooibos Gin. Die kafeteria by Brookfield Maze het ook Suid-Afrikaanse bier en koeldranke verskaf. Dit was ’n ware viering van geure, wat almal herinner het dat hoender in Suid-Afrikaanse kultuur feitlik as ’n groente beskou word.

Die kinders kon aan handwerkaktiwiteite deelneem en hulle gesigte laat verf, terwyl daar boeresport vir oud en jonk was. Hoewel die bokdrolspoeg ’n probleem teëgekom het as gevolg van Australië se streng gesondheids- en veiligheidsreëls, was gekleurde kougomballe ’n kreatiewe en higiëniese plaasvervanger. Potjiekos-entoesiaste het die dag spandeer om hulle geregte voor te berei, wat in Masterchef-styl beoordeel is. Die wenspan het die gesogte No 4-potjie gewen wat deur Tony’s Quality Meat geborg is. Ander pryse sluit ’n biltongmaker van Kalahari Khabu, ’n geskenkpak van Bushman Meats en ’n lugballonvlug vir twee, geborg deur Brookfield Maze in.

Die hele naweek lank het bywoners ’n ryk verskeidenheid van musiek, storievertelling met geliefde karakters soos Liewe Heksie en Bennie Boekwurm, en tradisionele boeremusiek geniet, met vergunning van Die Strandloper-radiostasieSaterdagaand was daar ’n lewendige danspartytjie en Sondagoggend het pastoor Onida Weir ’n sielroerende boodskap gebring, gekomplementeer deur die musiek van Ilze Kellerman.

Die feesvieringe is afgesluit met drie lammers op ’n spitbraai, geborg en verskaf deur plaaslike Suid-Afrikaanse boere John en Zoi van Gaza Lamb. Met vergunning van Sandy van Durbalicious (die tuiste van Suid-Afrikaanse piekels en speserye), is heerlike slaaie deur Tania Steyn, die kafeteriapersoneel en vrywilligers voorberei. Om die feesmaal af te sluit, is ’n dekadente malvapoeding (gemaak deur Karen Swanepoel van Valley View Foods), saam met jellie en vla, en roomys, deur Floreer Oorsee verskaf en geborg.

Namate die naweek tot ’n einde gekom het, het gelukkige bywoners die organiseerders gevra om die geleentheid ’n halfjaarlikse tradisie te maak. Nog nooit het soveel Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners, saam met hulle maats en kinders, só in harmonie bymekaargekom nie. Jy hoor Afrikaans oral en met drie pragtige sonskyndae het dit weer bietjie soos huis gevoel. Gelag, nuwe vriendskappe en gedeelde stories het die lug gevul en toe die laaste afskeid geneem is, kon die organiseerders nie anders as om trots te voel op die netjiese en skoon kampplek wat agtergelaat is nie. Planne is alreeds aan die gang vir ‘n nog groter “Makietie by die Maze” in 2025.

Share This