Geskiedkundige agtergrond

Betekenis van die Gelofte van Bloedrivier

Bybelse
begronding

Die
Geloftefeeskalender

Geskiedkundige agtergrond

Die verraderlike moord op Piet Retief en sy 70 man en 30 agterryers op 6 Februarie 1838 toe hulle met Dingaan, opperhoof van die Zoeloes, by sy hoofkwartier Umgungundlovu onderhandel het om grond te bekom, was vir die Voortrekkers in die destydse Natal ‘n geweldige terugslag. Met die daaropvolgende tweespalt en terugslae wat die Voortrekkers ondervind het, opgevolg deur die wrede moorde op mans, vrouens en kinders by Blaauwkrans en Weenen, was die Voortrekkers leierloos en weerloos.

Daarom het hulle ‘n boodskap gestuur na Andries Pretorius in die Oos-Kaap om leiding te kom gee. Toe Pretorius hom in November 1838 by die Voortrekkers in Natal aangesluit het, het hy aanvanklik gesê dat hy nie outomaties die leier van die Voortrekkers gaan wees nie, maar dat tussen hom en drie ander kandidate in afhanklike gebed tot God die lot gewerp moet word.

Die lot het uitgekom op Pretorius en hy het onmiddellik die weerbare manne en ‘n klompie swart agterryers gekonsolideer en gemobiliseer in ‘n parate weermag van 400 plus, bekend as die Wenkommando. Daarby het hy die vroue en kinders afsonderlik in ‘n laer van hul eie georganiseer onder behoorlike beskerming.

Intussen was dit duidelik dat ‘n kop-aan-kop botsing met die geoefende en georganiseerde Zoeloemag van meer as 12 000 krygers onafwendbaar was. Pretorius het besluit op pro-aktiewe optrede en het met die Wenkommando en hul waens en perderuiters begin beweeg in die rigting van die Zoeloekrygsmag.

Opmerklik van die benadering van Pretorius in hierdie opsig was dat terwyl sy verkenners hom op hoogte gestel het van die bewegings van die Zoeloemag, hy nie een keer ‘n vredesvoorstel uitgestuur het nie, maar het trouens per gevange Zoeloeverspieders vir Dingaan geboodskap dat “die wit umfaan oppad is.” Terselfdertyd het Pretorius en sy bevelstruktuur die Wenkommando geslyp in ‘n hoogs parate en vaardige militêre mag vir daardie tyd.

Ook in hierdie tyd het Andries Pretorius aan Sarel Cilliers, wat as geestelike leier in die kommando opgetree het, voorgestel dat die kommandolede ‘n gelofte aan God maak dat as Hy hulle die oorwinning sou gee, hulle Hom die eer daarvoor sou gee, dat hulle ‘n bedeling sou skep wat Hom behaaglik is en dat hulle die nageslag ook daaraan sal verbind. Die gelofte is deur Andries Pretorius en sy kommando afgelê elke aand vanaf 9 Desember tot en met 15 Desember 1838, op die vooraand van die gedenkwaardige Slag van Bloedrivier op Sondag 16 Desember.

Die Gelofte, in die Nederlands van destyds, het soos volg gelui:

 Mijne Broeders en Mede-landgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een heilige God van hemel en aarde om een belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn bescherming met ons zal wezen, en onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elk jaar als een verjaardag en een dankdag zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen; en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen, waar het Hem zou behagen;en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen, dat zij met ons erin moeten delen, tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal verheelikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem zal worden gegeven.

Vertaal in Afrikaans lui die Gelofte van Bloedrivier soos volg:

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Wat op 16 Desember 1838 gebeur het, is welbekend: Vanaf vroegoggend en deur die dag is die Zoeloemag vernietigend verslaan, met ‘n reeks wonderwerke wat deur die verloop van die slag plaasgevind het. Uiteindelik het meer as 2 000 Zoeloe-krygers gesneuwel, terwyl daar aan Voortrekkerkant geen ongevalle was nie en slegs drie liggewondes. Die oorblywende gedemoraliseerde Zoeloemag het iets gedoen wat hulle nog nooit gedoen het nie en dit was om hals-oor-kop op die vlug te slaan.

Die Slag van Bloedrivier was dus niks minder as een groot wonderwerk uit die hand van God nie!

Ná die slag het die Wenkommando aanbeweeg na Umgungundlovu, waar hulle gevind het dat ook Dingaan met sy onderdane die hasepad gekies het. Daarop het hulle die stat aan die brand gesteek, die beendere van Piet Retief en sy manne op Moordkoppie bymekaar gemaak en dit begrawe. Dingaan is later deur sy halfbroer vermoor, terwyl die Voortrekkers die Gelofte gestand gedoen het en hul eie republiek gestig het, hoewel dit later sou blyk kortstondig te wees. Die verdere geskiedenis en in watter mate die Gelofte nagekom is en nie nagekom is nie, is egter ‘n verhaal van sy eie.

Feit is die Gelofte en die Slag van Bloedrivier het ‘n beslissende en deurslaggewende invloed gehad op die latere geskiedenis van nie net die ganse Suid-Afrika nie, maar ook van die sub-kontinent en selfs wyer. In hierdie proses het God self die loot in Suid-Afrikaanse bodem geplant waaruit die Afrikanervolk gegroei het en steeds groei en daarom aan Hom al die lof en eer.

>

Terug na bo…

Betekenis van die Gelofte van Bloedrivier

Wat vir die hede en toekoms belangrik is, is dat die betekenis van die Gelofte van Bloedrivier soos volg saamgevat kan word:

  • Dit was ‘n gelofte aan God Drie-enig, wat, volgens Sy Woord, nagekom moet word – dus onder bevel en nie uit keuse nie.
  • Die Slag van Bloedrivier kan beskou word as die geboorte van die Afrikaner-Boerevolk, wat sedertdien deur wel en weë tot vandag toe gestalte gekry het.
  • Die Gelofte is ook van toepassing op die nageslag van die Afrikaner-Boerevolk, ondanks ontkenning deur talle van hulle.
  • Die Voortrekkers het nie Bloedrivier oorleef omdat hulle blank was nie, maar omdat hulle met hul agterryers draers was van die Evangelie – ‘n reddingsboei wat vandag steeds geldend is.
  • Vandag behels die Gelofte steeds ‘n verpligting op die Afrikaner oftewel Boerevolk om hulself te beywer vir ‘n bedeling wat God welbehaaglik is – vanaf die Geloftekerkie in Pietermaritzburg tot ‘n moderne staatkundige bedeling in Suidelike Afrika gebaseer op die praktiese volks- en etniese verskeidenheid.
  • In hierdie verband is dit noodsaaklik dat die Boerevolk sy volkskap met sy unieke geskiedenis, eiesoortige kultuur en trotse lewensprestasies herbevestig en dit met geloof en passie uitleef.
  • Op die huidige tydstip staar die Boerevolk ‘n ongeëwenaarde voortbestaansbedreiging in die gesig en daarvoor is dit noodsaaklik dat verskille sover doenlik opsygestoot word en dat bymekaar gebring word wat bymekaar hoort.
  • In die finale instansie gaan dit om die eer, koninkryk en wil van God-Drieënig.
>

Terug na bo…

Bybelse begronding

Wat sou ten diepste die begronding van die Gelofte van Bloedrivier wees? Daarvoor is nodig om terug te gaan na die Woord van God-Drieënig – die Bybel – want dit was Hy wat hierdie gelofte laat gebeur het.

Volgens die Bybel is in die huidige geskape menslike samelewingsorde die volgende vyf tipe verhoudings of verbande noodsaaklik: Eerstens, ‘n persoonlike verhouding tussen elke mens en God deur die Middelaar Jesus Christus; tweedens, die huwelik, tussen een man en een vrou; derdens, die gesin, bestaande uit pa, ma en kinders; vierdens, families oftewel die bloedlyn – daarom die geslagsregisters in die Bybel; en, vyfdens, volk – die konsep van volk wat soos ‘n goue draad deur die Bybel loop.

Dit beteken dat volkskap eintlik ‘n opdrag van God is en daarom moet die Afrikaner oftewel die Boerevolk hul volkskap koester. Die Afrikaner-Boerevolk is deur sy geskiedenis bewys as ‘n volk in eie reg en hoewel nie volmaak nie, voldoende substans waarop genadiglik nederig trots kan wees.

Vandag word die Boerevolk gekonfronteer met ‘n totale aanslag op elke lewensterrein – geestelik, militêr, moreel, ekonomies, jeug, maatskaplik, godsdienstig, noem dit. Dit is vandag nie net ‘n sigbare militêre mag nie, maar ‘n Nuwe Wêreldorde wat die Bose met sy handlangers nie net in Suid-Afrika wil vestig nie, maar wêreldwyd. Om dit teen te staan en te oorwin, verg bonatuurlike en omvattende vermoë – vermoë wat slegs Christus, wat reeds die finale oorwinning behaal het, kan gee.

Daarvoor vra Hy geloof en daadkrag. Daarom vir die behoudende Afrikaner-Boerevolk van vandag is daar geen ander uitweg nie as: Terug na die God van die Gelofte van Bloedrivier!

>

Terug na bo…

Die Geloftefeeskalender

In 2011 het die Afrikaanse koerant Ditsem Nuus begin om jaarliks in die Desember-uitgawe ‘n Geloftefeeskalender te publiseer as ‘n lys van Geloftefeeste en -dienste wat gehou word. In die eerste uitgawe is 26 Geloftefeeste en -dienste, met basiese besonderhede, gelys en sedertdien het die aantal elke jaar gegroei, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die buiteland, tot die 223 wat in die 2024 uitgawe gelys is.

Daarby is die tendens dat die aantal mense wat individuele feeste en dienste bywoon, oor die algemeen ook toeneem. Wat ook wonderlik is, is dat al meer van ons volk wat in die buiteland woon – die diaspora – in toenemende mate die Gelofte herdenk. Nog ‘n verwikkeling is dat die tegnologie al meer ingespan word om herdenking van die Gelofte beter, makliker en sterker te maak.

Die samestelling en verspreiding van die Geloftefeeskalender is ‘n omvattende projek wat wye skakeling en inligtingsversameling vereis en wat dan professioneel in bruikbare en grafies-aantreklike formaat gegiet word. Vir maklike leesbaarheid is die inligting in die Kalender grootliks gestandardiseer, terwyl alle dorpe en stede in Suid-Afrika waar Geloftefeeste en -dienste gehou word, in die Kalender in een lys alfabeties gerangskik is. Geloftefeeste en -dienste in die buiteland is daarby in ‘n eie afdeling bygevoeg.

Voorts is ‘n Facebook-blad en ‘n WhatsApp-groep vir die Gelofte geskep, terwyl in 2023 vir die eerste keer ook ‘n elektroniese interaktiewe wêreldkaart laat maak is waarop al die Geloftefeeste en -dienste gelys word.

Gerieflikheidshalwe is die 2024 Geloftefeeskalender by hierdie skakel beskikbaar.

Met die samestelling van die Geloftefeeskalender het DitsemBlits gevind dat die persone wat Geloftefeeste en -dienste op die verskillende plekke organiseer, mense is wat in geloof vashou aan die Gelofte en aan die betekenis daarvan. Dikwels doen van hierdie mense dit onder uiters moeilike omstandighede. Groot dank aan hierdie sout-van- die-aarde Afrikaner-Boere.

Die samestelling, produksie en verspreiding van die Geloftefeeskalender, asook die skep van die interaktiewe Wêreldkaart en van die webwerf, bring noodwendig aansienlike koste mee – koste wat DitsemBlits nie naastenby op sy eie kan dra nie. Daarom hartlike dank en waardering aan die borge van die Kalender vir hul noodsaaklike ondersteuning. Van hierdie borge kom drie al van die begin af saam met die Geloftefeeskalender, nl. AfriForum, die FAK en Maryna de Klerk Makelaars.

Die Geloftefeeskalender in digitale formaat word wyd deur die Internet versprei, deur o.m. die digitale platforms van DitsemBlits, deur die organiseerders van Geloftefeeste, deur die borge van die Kalender met hul uitgebreide netwerke en op die Facebook-blad van die Kalender.

Vanjaar is die Geloftefeeskalender nog ’n stap vorentoe geneem met die ontwerp, bou en daarstelling van hierdie webwerf, met die volgende onderafdelings:

  • Oorsig
  • Kalender
  • Wêreldkaart
  • Jongste nuus
  • Leraars en sprekers
  • Programmateriaal
  • Videokanaal
  • Sosiale media
  • Navrae
  • Kontak ons
  • Onderaan die tuisblad is ‘n deurglybalk (“scroll bar”) en onder dit spasies vir banieradvertensies.

Geloftefeeste en besighede gemoeid met die Gelofte is welkom om op die webwerf te adverteer teen tariewe bekostigbaar vergeleke met die gegewe wye en markgerigte blootstelling – kontak in hierdie verband 082 773 2150 of gelofte@ditsem.net.

Vir die nabye toekoms word die volgende verdere opgradering van die Geloftefeeskalender beplan:

  • Meer Geloftefeeste en -dienste gelys as die 223 rekordtotaal in die 2024 uitgawe.
  • Opgradering van die interaktiewe Wêreldkaart.
  • Uitbreiding van die sosiale mediapakket van die Geloftefeeskalender as net die huidige Facebook-blad en WhatsApp-groep.
  • Beskikbaarstelling van meer digitale materiaal as hulpmiddel vir organiseerders met die samestelling en aanbieding van hul Geloftefeesprogramme.
  • Bevordering onder Afrikaner-diaspora in die buiteland van die konsep van Geloftefeeste en -dienste per Zoom of met ander gesig-tot-gesig elektroniese kommunikasie.
  • Oor die algemeen, beter en wyer bemarking onder Afrikaners van die Gelofte van Bloedrivier, met die wete dat dit in die eerste plek nie ‘n bloot menslike saak is nie, maar dat dit primêr uit die hand van die Here kom.

Die Geloftefeeskalender behoort aan die behoudende deel van die Afrikaner-Boerevolk en diegene is welkom om dit te gebruik vir die doel waarvoor dit geskep is. DitsemBlits, soos Ditsem Nuus tans bekendstaan, is slegs die administrateurs van die webwerf en kan gekontak word vir enige versoek of voorstel by die besonderhede elders op hierdie webwerf.

Inligting van Geloftefeeste en -dienste benodig

Die inligting van Geloftefeeste en –dienste wat benodig word, word in die volgende basiese formaat versoek, asb.:

  • Bevestiging van die naam van die Geloftefees of –diens.
  • Die plek of terrein waar die fees/diens gehou word.
  • Bevestiging van die dorp of stad waaronder die Geloftefeesterrein val.
  • Die volgende basiese besonderhede: Presiese datum(s ) / Programdetail met tye – maksimum 60 woorde / Naam van feesspreker / Naam van leraar wat Geloftediens lei
  • Bevestiging van naam van kontakpersoon met selnommer en eposadres

Indien jy nie die organiseerder is nie, of nie in die organiserende komitee dien nie, stuur hierdie inligting aan die korrekte organiseerder, asb. Voorts, weet jy van enige ander Geloftefees of -diens wat vanjaar gehou word en wat nie in die 2023 Geloftefeeskalender verskyn nie?

Waar gesien word dat Geloftefeeste of -dienste nie gelys is nie, of dat inligting dalk foutief is of ontbreek, stel DitsemBlits onmiddellik daarvan in kennis by gelofte@ditsem.net.

 

 

>

Terug na bo…

Share This